Die Cilliers-Stamboom
Baie welkom by die Stamboom van die Cilliers-Familie
Ja, baie welkom hier op die Cilliers-familie se webwerf! Jy sal sien dat dit nog ver van volledig af is, maar ek het besluit om dit tog op die Internet te publiseer sodat diegene wie se families nog nie hier is nie, my kan laat weet. Dan kan ons hul inligting ook hier plaas. In hierdie stadium spits ek my nog hoofsaaklik toe op die lyn van oorgrootoupa Petrus Johannes Cilliers, maar daar is geen rede waarom ons nie kan uitbrei nie. So, as jou van Cilliers/Celliers/Cillié is, of jy enige verbintenis het, laat weet my asseblief! Indien van jou inligting hierop is, maar iewers moontlik n foutjie ingesluit het, laat weet my ook asb!
Voordat ek verder gaan, wil ek net eers n baie groot dankie sê aan Mariana Olivier van Bellvillie vir die feit dat sy so vriendelik was om haar navorsing oor baie jare van die Cilliers-familie aan my beskikbaar te stel vir eie gebruik! Baie dankie Mariana en mag jy vir die res van jou lewe ryklik geseën word deur ons hemelse Vader vir jou onbaatsugtige diens aan die familie!
Petrus Johannes Cilliers
Oor-grootoupa, Petrus Johannes Cilliers, was die eerste van my regstreekse voorgeslagte wat die Kaap verlaat en noordwaarts getrek het. Hy is op die jeugdige ouderdom van 17 getroud in Malmesbury en wraarskynlik onmiddellik daarna tot in die distrik Piketberg, waar hy geboer het. Hier het hy verskeie kinders laat doop, waarvan die oudste op 29 Okt 1835 gebore is. Die kind is baie jonk dood. In 1844 het hy nog n kind in Piketberg laat doop en daarna klaarblyklik na die Karoo verkas het waar hy hom eers op die plaas Ezelskloof, in die distrik Victoria-Wes, tuisgemaak het, en later met sy gesin verder getrek en hom op die plaas Roodevloer, ook in die destydse distrik Victoria-Wes, gevestig het. Die plaas bestaan nog en val nou in die distrik Prieska naby Vosburg in die Noord-Kaap. Hy en oor-grootouma Johanna Adriana Cecilia Burger, is albei daar oorlede en op die plaas begrawe. Die begraafplaas is tans op die plaas Poortjie, een van verskeie plase wat van Roodevloer afgesny is. Die grafte is vandag egter net hope ysterklip en die twee se grafte kan dus nie uitgeken word nie. Roodevloer, nou bekend as Rooivloer, is al vir baie jare in die besit van die Gousssard-familie. Daar word nie meer voltyds op die plaas geboer nie.
Christiaan Johannes Cilliers
Dit is nie seker waar Oupagrootjie Christiaan Johannes Cilliers, gebore is nie, maar hy is in die NG Kerk op Beaufort-Wes gedoop. Van sy ouer broers en suters is op Piketberg gedoop. Sy latere broers en susters is waarskynlik almal op Roodevloer gebore en is op Victoria-Wes gedoop. Hy is op die ouderdom van 21 met die 15-jarige nooi, Maria Margaretha Magdalena Heyns van die plaas Biega, naby Prieska, op Hoopstad getroud. Hy het na sy troue verder noordwaarts getrek totdat hy op Koegasputs beland het. Verskeie van sy kinders is daar gebore en gedoop. Grootoupa Hans was, na verneem word, waarskynlik n bouer van beroep en het van plaas tot plaas getrek om te bou. Elke keer as hy n kind laat doop het, het hy 'n ander plaasnaam as sy adres aangegee. Hy is op die plaas Waverley, in die omgewing van Koegasputs, oorlede en in die kerkhof op Koegasputs begrawe. Die graf is nie gemerk nie, maar die vermoede is dat moontlik die een onder 'n boom in di begrafplaas is wat net met 'n betonraam omraam is. Daar is geen grafsteen nie. Destyds was grafstene dikwels leiklip waarop die besonderhede van die oorledene uitgekrap is en wat later so verweer het dat dit gladnie meer leesbaar is nie.
Jan Arnoldus Cilliers
Oupa Jan Arnoldus Cilliers is op Griekwastad gebore en gedoop. Op 'n jong ouderdom het hy saam met oupagrootjie Hans na Koegasputs teen die Oranjerivier naby Marydale verhuis. Daar het oupagrootjie Hans ook gebou en oupa Jan het hom op veeboerdery toegelê. Die asbesmyn op Koegasputs was een van die min myne in die wêreld waar die gesogte blou asbes van uitstekende gehalte gemyn is. Die destydse regering het die myn egter in 1976 gesluit toe dit aan die lig gekom het dat talle van die mynwerkers aan asbestose gesterf het of daarvan siek geword het. .
Dit is ook hier in die kerkie waar oupa Jan en ouma Catherina Elizabeth Kittie van der Westhuizen getroud is. Die grond waarop die kerkie op Koegasputs staan, is deur oumagrootjie Heyns se bekende broer en boer van die omgewing, Nicholas Albertus Klaas Heyns geskenk. Koegasputs was een van 13 plase wat hy in een stadium besit het. Die laaste plaas is sy besit was Swartberg, waar oumagrootjie Heyns in 1940 oorlede is. Sy en Klaas, en sy vrou, Martha, is op die plaas Witberg, ook in die omgewing van Koegasputs, begrawe. Haar graf kan egter nie uitgeken word nie.
Oupa Jan het later weer na Griekwastad getrek en vandaar in 1919 na die destydse Suidwes-Afrika waar hy hom op die plaas Nabas naby Ariamsvlei, in die suidooste van die land gevestig en met vee geboer het. Hy het later uitgeboer en na 'n paar omswerwinge, het hy uiteindelik in die vroeë 1940's op Karibib in die destydse Suidwes-Afrika beland. Soos baie van die ouer mense van die vroeë jare, het hy as jongman 'n ambag geleer, in sy geval skoenmakery. Dié beroep het hy vanaf sy huis in Karibib beoefen. Daar is ouma Kittie in 1944 oorlede en begrawe. Oupa Jan het in 1961 gesterf waar hy by sy jongste seun, Daniël Johannes Cilliers en sy vrou, Dora, in Melville, Johannesburg, gewoon het. Hy is in die Wespark-begraafplaas in Johannesburg begrawe.
Petrus Jacobus Cilliers
My vader, Petrus Jacobus Cilliers, wat in 1915 op Koegasputs gebore en op Niekerkshoop gedoop is, het op vierjarige ouderdom saam met sy vader en ouer broer en en suster na Nabas in Sidwes-Afrika vertrek. Toe hy skoolouderdom bereik het het, is hy saam met sy broer en suster in die destydse plaasskool op Ukamas skool gegaan en in die koshuis geloseer het. In 1937 is hy na Usakos in die destydse Suidwes-Afrika (nou Nambië) waar hy op die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens begin werk het. Hy het hom eers as lettersetter bekwaam en later as ketelmaker en die ketels van die toentertydse stoomlokomotiewe herstel. Hy is op 14 Februarie 1997 in Windhoek, Namibië, oorlede en ook daar begrawe.
Ek sluit 'n familievraelys hier in wat jy kan voltooi as jou besonderhede onvolledig of glad nie hier is. Ek sal dit baie waardeer as jy dit sal voltooi en vir my sal terugstuur. Jy kan die voltooide vorm na my faks na 0880 905 862 of pos na Jan Cilliers, Ons Herberg 44A, Eerstelaan, Bronkhorstspruit 1020.
Om die Familievraelys oop te maak en uit te druk, klik op Familievraelys onder aan die bladsy by die Inhoudsopgawe.
Inhoudsopgawe
Familiegroeprekord vir Willem Jacobus "Willie" VAN DER MERWE
Vannelys
Indeks van Name
Kontak Inligting
Stuur E-pos na cilliersjan@gmail.com
Stuur pos aan:
Jan Cilliers
Ons Herberg 44A
Eerstelaan
Bronkhorstspruit 1020
+27 13 932 3020
+27 83 463 4051
Familievraelys
Tuis | Inhoudsopgawe | Vanne | Naamlys
Hierdie Webwerf is Geskep op 29 Apr 2010 met Legacy 6.0 van Millennia